Bedaar en erken dat ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. – Psalm 46:11

Liewe Leser,

Ek dink almal wil voel dat hulle in beheer is van hulle lewe. Ek dink die grootste rede hiervoor is omdat daar soveel dinge in die lewe is wat ons nie kan beheer nie.

Ons maak baie keuses wat die gang van ons lewe bepaal. Waar ons bly, waar ons werk en ons kies die persoon met wie ons trou. En dan kan ons ook besluit of ons kinders wil hê, of nie. Ons kies ook ons vriende.

Daar is ook baie finansiële keuses – om in ‘n huis te bly of ‘n kompleks, en om te huur of koop. Ons besluit om versekering uit te neem, te spaar vir verskillende redes of om glad nie te spaar nie.

Partykeer bring die lewe struikelblokke op ons pad – soos onverwagte uitgawes waarvoor ons ‘n oplossing moet vind. Partykeer is dit klein dingetjies wat nie regtig jou lewe op die lang duur beïnvloed nie. Partykeer groter krisisse, soos siekte en dood.

Maar wat maak jy as jou hele lewe omver gewerp word, deur die besluite van ander. Wanneer ‘n maatskappy eendag besluit hulle het jou nie meer nodig nie?

Dit is wanneer jy besef sekere uitdagings is partykeer groter as jy. En om ‘n oplossing te vind is nie altyd maklik nie. Wanneer jy aansoek doen vir poste en geen terugvoer kry nie . As al jou oplossings enidees geen vrugte dra nie. Wanneer die tyd genadeloos aanstap en jy geen manier kan vind om ‘n inkomste te genereer nie.

Dis dan wanneer mens geneig is om paniekerig te raak, negatief te begin dink en moedeloos te word.

Maar vanoggend kom hierdie verse in my gedagtes op: “Bedaar en erken dat ek God is.”

Alhoewel ek glo dat mens verantwoordelikheid moet aanvaar en alles probeer wat jy aan kan dink om oplossings vir jou probleme te vind, is dit tog gerustellend om te weet dat jy alles moet doen wat jy kan, en dan ongeag die resultate, net kan bedaar en oorgee. Want daar is Iemand groter as jy. En jy kan net stil word en rus in Hom.

Vir my beteken hierdie vers dat jy wel moet aksie neem, maar die malende gedagtes en woelende emosies wat jou so moeg en gedaan maak – dit is wat jy aan Hom kan oorgee. Sodat jy uiteindelik kan bedaar en tot rus te kom.

So, liewe leser: Is jy op die oomblik in ‘n plek in jou lewe waar jy nie meer herwaarts of derwaarts weet nie en waar jy geen oplossings vir jou probleme kan vind nie. Dan wil ek vandag vir jou se: “Bedaar en erken dat Hy God is.” Want dit het ek al vele male in my lewe ervaar: Dit is eers wanneer jy self ophou spook en spartel en jou probleme aan Hom oorgee, dat daar dikwels die deurbraak kom wat jy so bitter nodig het!

Doen dit nou!

Dankie dat jy gelees het.

Susan

One thought on “Bedaar en erken dat ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. – Psalm 46:11

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.