Laat Barabbas vir ons los! Barabbas was in die tronk oor ‘n opstand in die stad en oor moord. – Luk 23:19

Liewe Leser,

Vandag se brief is vir ons Afrikaanse lesers!

Ek kan onthou as ‘n jong volwassene, het ek op ‘n stadium baie gewonder oor Barabbas. Die Bybel vertel ons dat hy in die tronk was omdat hy betrokke was in ‘n opstand teen die Romeinse gesag, maar ook dat hy ‘n moordenaar was. Hoekom sou die skare ‘n moordenaar se vrylating verkies bo Jesus? Maar meer as dit, hoe het hy sy vrylating ervaar, terwyl hy sekerlik straf of teregstelling verwag het?

Ek wil vandag graag met julle Barabbas se storie deel (nie gegrond op enige feite nie, maar bloot my voorstelling van hoe dit dalk vir Barabbas was) – wat ook in die destydse Voorligter se “Laaste sê”, onder my nooiensvan (Botha) gepubliseer is.

Eindelik Vry!

“Ons soek Barabbas!”  Vaag dring die woorde tot hom deur, hier waar hy afgesonder in sy sel sit, die vrees ‘n vlam wat skroei en brand.  “Ons soek  Barabbas!”  Die skare word mal.  Sy gesig vertrek, die angs misvorm hom.  Hy hoor die sleutel knars, die deur swaai oop.  Hy deins onwillekeurig terug.  Nou’s alles verby.  Hy gaan sterf!  Hoe gaan dit wees?  Eers haat, smaad en verguising.  Dan die spykers en die pyn…

“Kom!”  Die wag se stem is bars.  Strompelend volg hy die wag in die dofverligte gang.  Kan ek nie….  Nee, ek is te swak, uitgeteer.  Eens… my liggaam was my trots.  Die gang maak ‘n draai.  Tog snaaks dat hy my nie geboei het nie.

Vaagweg hoor hy die gedreun van die skare:  “Kruisig hom!  Kruisig hom!”  Die klank swel aan.  Barabbas!  Moordenaar!

By die deur.  Nou kom dit!  Die begin van die einde.  Die deur swaai oop.  Hy sien die kleistene, die blou lug , die son.

“Jy is vry!”  kom die woorde.  “Ek… ek verstaan nie,” stotter hy.  Die skare….  “Loop! of wil  jy terugkeer na jou sel?”  Verdwaas draai hy om.  Die sel het tuiste geword.

Hy versteen. Die agterpunt van die skare.  Bulderend:  “Kruisig Hom!  Kruisig Hom!”  Sy oë dwaal na die verhoog.  Pilatus!  Dan sien hy die figuur – bebloede rug – hulle oë ontmoet… en tyd staan stil.  Die oë is sag, dis oë wat spreek van liefde en genade.  Iets roer aan die kors van sy  harde hart.  Hy skeur sy blik weg, bulder dan saam met die skare.  “Kruisig Hom!  Kruisig Hom!”  Maar waarom voel dit dan soos verraad?

Susan Botha

So, liewe leser: Wat dink jy wat het hierna van Barabbas geword? Ek wonder of hy uiteindelik wel ‘n volgeling van Jesus geword het?

Dankie dat jy die tyd geneem het om te lees!

Susan

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.